Gaan na inhoud

Louisiana

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Deelstaat Louisiana
State of Louisiana
État de Louisiane
alt alt
Vlag van Louisiana Seël
Bynaam(e): Pelican State
alt
Kaart van die Verenigde State met Louisiana uitgelig
Amptelike taal(e) Geen; Engels en Frans de facto
Gesproke taal(e) Engels 91,2%, Frans 4,8%
HoofstadBaton Rouge
Grootste stadNew Orleans
Area 31ste in die V.S.
 - Totaal135 000 km2
 - Wydte231 km
 - Lengte610 km
 - Water23 102 km2
 - % water15 %
 - Breedtegraad29°N tot 33°N
 - Lengtegraad89°W tot 94°W
Bevolking 25ste in die V.S.
 - Totaal4 649 676 (2014-skatting)
 - Digtheid41,2/km2
26ste in die V.S.
Hoogte 
 - Hoogste punt Driskillberg, Bienville Parish
163 m
 - Gemiddeld30 m
 - Laagste puntNew Orleans
–2,5 m
Toetrede tot die Unie  30 April 1812 (18de)
GoewerneurJeff Landry (R)
Luitenant-GoewerneurBilly Nungesser (R)
WetgewerLouisiana Wetgewer
 - HoërhuisSenaat
 - LaerhuisHuis van Verteenwoordigers
V.S. SenatoreBill Cassidy (R)
John Kennedy (R)
Tydsone Sentrale Standaardtyd: UTC -6 / Somertyd -5
Afkortings LA US-LA
Webbladwww.louisiana.gov

Louisiana (Engels: [luˌiːziˈænə], of [ˌluːziˈænə], ; Frans: Louisiane, [lwizjan], ; Spaans: Luisiana, [lwiˈsjana]; Louisiaanse kreools: Lwizyàn), amptelik die Deelstaat Louisiana (Engels: State of Louisiana; Frans: État de la Louisiane; Spaans: Estado de Luisiana; Louisiaanse kreools: Létat de Lalwizyàn), is 'n deelstaat in die suide van die Verenigde State. Louisiana word in die noorde deur die deelstaat Arkansas, in die weste deur die deelstaat Texas, in die ooste deur die deelstaat Mississippi en in die suide deur die Golf van Meksiko begrens. Die staat lê in die subtropiese klimaatsone met baie warm, lang somers en gematigde winters. Die gebied word dikwels deur verwoestende orkane getref.

Dekoratiewe voorwerpe, wat van gebrande loess gemaak is, is van die argeologiese spore wat die sogenaamde Poverty Point-beskawing in Louisiana gelaat het. Hierdie Indiaanse beskawing het gedurende die Laat Argaïese Tydperk tussen 1700 en 1100 v.C. in gebiede tussen die Mississippi-delta en die Golfkus gefloreer het
Die stadshorison van New Orleans
Die hoofstad Baton Rouge is aan die Mississippirivier geleë
Die Mississippi-rivierdelta (foto geneem deur NASA se Terra-satelliet) vorm die eindpunt van die magtige rivier se bestemming. Die rivier deel sy geheime met niemand nie, soos deelstaatbewoners sê, en hou hulle in sy whiskykleurige water om hulle na die see toe te neem
Missluiers hang oor die Mississippi in New Orleans se Franse Kwartier
Orkaan Katrina nader die Golfkus van Louisiana in Augustus 2005

Louisiana was lank voor die koms van die eerste Europeërs die tuiste van stamme van die Eerste Nasies, en 'n aantal plekname verwys na die Indiaanse oorsprong van die deelstaat.

Die eerste Europese ontdekkers was 'n Spaanse ekspedisie onder die leiding van Panfilo de Narvaez, wat in 1528 die monding van die Mississippirivier verken het. Sowat dertien jaar later het die ekspedisie van Hernando de Soto die gebied deurkruis. Die Spaanse owerhede het min belang in die gebied gestel, en dit was Franse ontdekkers wat die streek vervolgens verken het. René Robert Cavelier de La Salle het die gebied in 1682 ter ere van koning Lodewyk XIV van Frankryk Louisiana genoem. Die eerste Franse nedersetting is in 1699 deur Pierre Le Moyne d'Iberville gestig. Die Franse kolonie Louisiana het aanvanklik aanspraak gemaak op 'n groot gebied langs die oewers van die Mississippi wat tot by Kanada in die noorde gestrek het. Die nedersettings wat so ontstaan het, was meestal langs die oewers van die Mississippi en sy takriviere geleë, terwyl 'n aantal handelsposte en sendingstasies ook in die gebied van die huidige Illinois en in die omgewing van St. Louis (Missouri) gestig is. Mobile in Alabama en Biloxi in Mississippi het aanvanklik as hoofstede van die kolonie gedien, tog is die setel van die regering in 1722 na New Orleans verskuif.

In die oorloë teen die Britte en Indiane het Frankryk die grootste gedeelte van sy gebiede oos van die Mississippi verloor, met die uitsondering van die omgewing van New Orleans en die parogieë rondom die Pontchartrainmeer. Die res van Louisiana het volgens die Verdrag van Fontainebleau in 1762 'n Spaanse kolonie geword. Onder Spaanse heerskappy het 'n paar duisend Franstalige vlugtelinge, wat deur die Britse bewindhebbers uit Akadië verdryf is, Louisiana hulle nuwe tuiste gemaak. Die Akadiërs het hulle veral in die gebied van die suidwestelike bayous gevestig en later as die Cajuns bekend gestaan.

Napoleon Bonaparte het in 1800, met die Verdrag van San Ildefonso, Louisiana van Spanje terug gekoop, alhoewel die transaksie twee jaar lank geheim gehou is. Die hawe van New Orleans het steeds 'n groot rol in die politieke betrekkinge tussen die Verenigde State en Frankryk gespeel. Die Amerikaanse setlaars in die noordwestelike streke het hulle landbouprodukte, veral tabak, via die Mississippirivier uitgevoer en was dus aangewese op hierdie hawe. Die Franse het sulke toegang egter geweier. In die kort tydperk van die Spaanse heerskappy in Louisiana is 'n ooreenkoms tussen die VSA en die Spaanse koloniale owerhede gesluit, waarvolgens die gebruik van die hawe vir Amerikaanse uitvoere gewaarborg is. Die skielike opsegging van hierdie ooreenkoms en gerugte dat die gebied al heimlik aan Frankryk teruggegee is, het onrus in die Verenigde State veroorsaak. President Thomas Jefferson het 'n afvaardiging na Parys gestuur, wat onderhandelinge met die Franse minister van Buitelandse Sake, Talleyrand, begin het. Aangesien keiser Napoleon destyds fondse vir sy Europese ondernemings benodig het, het hy uiteindelik ingewillig om die hele Louisiana teen 'n prys van VSA-$ 15 miljoen aan die Amerikaners te verkoop.

Die Amerikaanse owerhede het die kolonie Louisiana in twee gebiede verdeel: Die Orleans-gebied, wat in 1812 die deelstaat Louisiana gevorm het, en die distrik van Louisiana met alle geweste buite die Orleans-gebied. Die Florida-parogieë is deur 'n proklamasie van president James Madison in die jaar 1810 van die Spaanse Wes-Florida geannekseer. Die westelike grenslyn tussen Louisiana en die Spaanse Texas het tot met die Adams-Onís-verdrag van 1819 omstrede gebly. Die vrystaat Sabine het tussentyds as 'n buffersone en toevlugsoord vir misdadigers gedien.

As 'n oorblyfsel van sy verlede as Franse besitting handhaaf die deelstaat Louisiana nog steeds 'n burgerlike wetboek, wat op die Code Civil van Louisiana baseer en min of meer met Frankryk se wetboek, die Code Napoléon, vergelyk kan word. Anders as die ander deelstate is Louisiana nie in counties onderverdeel nie, maar in parogieë, soos uit die Franse tydperk oorgeërf. In 1849 is die setel van die staatsregering van New Orleans na Baton Rouge verskuif. Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog het Louisiana op 26 Januarie 1861 van die Unie afgeskei. Federale troepe het die stad New Orleans op 25 April 1862 verower. Louisiana is danksy die erfenis van die Franse koloniale tydperk uniek onder die Amerikaanse deelstate. Terwyl daar geen amptelike taal is nie, erken sy regstelsel sowel Engels as Frans. Engels is vandag die omgangstaal van die oorgrote meerderheid van die bevolking. Tog word oorblyfsels van die Franse taal in die plaaslike dialekte en talle plekname bewaar en praat ongeveer 215 000 inwoners Frans as moedertaal. Die getal deelstaatbewoners van Franse of Frans-Kanadese afkoms is in die sensus van 2000 as 524 258 bepaal.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Louisiana is genoem na Lodewyk XIV, koning van Frankryk van 1643 tot 1715. René Robert Cavelier de La Salle het die gebied, wat deur die Mississippirivier dreineer word, vir Frankryk opgeëis en dit La Louisiane genoem.[1] Die Latynse agtervoegsel –ana (of –ane) kan verwys na "inligting met betrekking tot 'n bepaalde individu, onderwerp of plek." Louis + ana kan dus rofweg vertaal word as "behoort aan Lodewyk". Die Louisianagebied was eens deel van die Franse koloniale ryk en het van die Mobilebaai in die suide tot net noord van die huidige Kanadees-Amerikaanse grens gestrek, insluitende 'n klein deel van die Kanadese provinsies Alberta en Saskatchewan.

Geografie

[wysig | wysig bron]
'n Kaart van Louisiana

Die magtige Mississippi, wat die deelstaat in twee deel en die sentrale korridor vorm van 'n ingewikkelde stelsel van waterweë en -liggame, insluitende uitgestrekte bayous, het steeds die toneel gevorm waarop enige rolspeler in Louisiana se geskiedenis moes optree – Indiaanse jagters, onverskrokke Franse verkenners en pelsjagters, waagmoedige Spanjaarde, Akadiese vissers en herders, en Anglo-Amerikaanse planters, maar ook enigeen van sy huidige bewoners. Anderkant die waterweë en -liggame, verder af van die laagliggende vlaktes van die Mississippi-rivierdelta, lê die uitgestrekte moeraslande van Suid-Louisiana, die vrugbare grasvlaktes of prairies van die suidweste, en die hoër geleë beboste terrein van Noord-Louisiana.

Klimatiese besonderhede wat uit Louisiana se ligging aan die Golf van Meksiko voortspruit, het eweneens hul stempel afgedruk op die deelstaat se geskiedenis. Louisiana ervaar dikwels weersuiterstes, met betreklik warm en bedompige weer in die lente en somer, maar ook kouer periodes gedurende die wintermaande. Verwoestende orkane, tornado's en reënstorms vorm die skadukant van 'n halftropiese klimaat met voldoende neerslae en lang periodes van aangename weer in 'n uiters vrugbare deelstaat.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë Indiaanse geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Indiaanse kulturele streke in Noord-Amerika

In die onlangse 6 000 jaar wat volgens argeologiese vondse gerekonstrueer kan word het op die gebied van die huidige deelstaat Louisiana talle Indiaanse kulture ontwikkel en hul kulturele area het dikwels weerskante die Mississippirivier gestrek en daarmee ook na die buurdeelstaat Mississippi. Die Indiane op die gebied van die huidige Louisiana is beïnvloed deur groter ontwikkelings by die Indiaanse kulture in die suide en suidooste van die Verenigde State wat op sy beurt verwant was aan die kulture van die noordelike Mississippi- en die Ohioriviere (byvoorbeeld die Hopewell-kultuur) en ook aan Meso-Amerika.

Argaïese tydperk

[wysig | wysig bron]

Die indrukwekkendste vondse van die Noord-Amerikaanse Indiane se argaïese tydperk in Louisiana is talle van die vroegste sogenaamde holms, groot piramide-, halfsirkel- of ook slangvormige aardwalle. Die oudste holms en daarmee die oudste bekende bouwerke in Noord-Amerika bevind hulle in Louisiana. Van die middelargaïese holms is Watson Brake en Frenchman's Bend by die huidige Monroe. Hulle word op sowat 5 500–5 000 jaar geskat.[2] Die bekendste struktuur is Poverty Point wat aan die einde van die argaïese tydperk ontstaan het. Die kultuur, wat na dié struktuur genoem is, het oor dele van Louisiana en die buurdeelstate gestrek. Dit het sy bloeitydperk rondom 1500 v.C. bereik en was daarmee een van die oudste of self die oudste komplekse beskawing in die Amerikaanse geskiedenis.[3]

Woudland-tydperk

[wysig | wysig bron]

Die Woudland-tydperk, wat op die argaïese tydperk gevolg het, het in groot dele van Louisiana van 1000 v.C. tot 1000 n.C. bestaan en van die vorige kultuur verskil deur die groter gebruik van keramiek en die toenemende gevestigdheid en gebruik van landbou. Hoewel hierdie tydperk veral gekenmerk was deur die nomadiese leefwyse van jagter-versamelaars, het ook halfpermanente nedersettings ontstaan.[4] In die middelperiode het in Noord-Louisiana die Hopewell-kultuur ontstaan, wat ook 'n groot invloed op die kulture in Louisiana gehad het.

Mississippi-tydperk

[wysig | wysig bron]

Die Mississippi-tydperk het langs die noordelike Mississippirivier ontstaan en verskeie kulture van Louisiana beïnvloed, waaronder veral die Plaquemine-kultuur tussen sowat 1200 en 1400 n.C. en die Caddo-kultur. Die mielielandbou het versprei. Die Mississippi-kultuur was die enigste Indiaanse beskawing noord van Meksiko wat versterkte stede opgerig het, die sosiale struktuur het 'n sterk hiërargiese kenmerk gehad en opvallende kenmerke met die Asteke se samelewing in Meso-Amerika getoon.

Eerste Europees-Indiaanse kontakte

[wysig | wysig bron]

In 1528 het Pánfilo de Narváez die eerste Europeër geword wat by die Mississippidelta aangekom het. In 1542 het Hernando de Soto se ekspedisie deur die noorde en weste van Louisiana getrek, waar hulle die Caddo en Tunica ontmoet en die Mississippirivier se loop tot by die Golf van Meksiko gevolg het.

Toe hulle in Louisiana aangekom het, het daar talle Indiaanse volke gebly, waaronder die Atakapa, Appalousa, Acolapissa, Tangipahoa, Chitimacha, Washa, Chawasha en Yagenechito; die Bayougoula, Quinipissa, Mougoulacha, Houma en Okelousa wat almal aan die Choctaw behoort het; Avoyel en Taensazu van die Natchez; Tunica, Koroa, Caddo, Adai, Natchitoches, Yatasi, Nakasa, Doustioni en Quachita,[5] waarvan sommige spore in die vorm van plekname agtergelaat het, byvoorbeeld die Tunica, Tangipahoa of die Natchitoches.

Die Spaanse conquistadores het hier nie die maklike rykdom gekry waarop hulle gehoop het nie, soos dit ander voor en ná hulle in Meksiko of Peru gevind het. Gevolglik het hulle nie belanggestel in Louisiana se permanente kolonisasie as deel van die Spaanse Ryk of die stigting van basisse nie.

Koloniale tydperk

[wysig | wysig bron]

Franse kolonisasie van 1682 af

[wysig | wysig bron]
Gebiede in Noord-Amerika wat eens onder Franse beheer was

In 1682 het Robert Cavelier de La Salle vanuit die noorde oor die Mississippirivier Louisiana en die monding van Noord-Amerika se grootste rivier bereik. Hy het sy tog in die Franse kolonie Nieu-Frankryk begin, wat destyds uit die huidige Franstalige gebiede van Kanada bestaan het. Hy het die groot gebiede tussen die Groot Mere en die Golf van Meksiko vir Frankryk in besit geneem en dit na die Franse koning Lodewyk (Frans: Louis) XIV Louisiana genoem. Daarmee het hy indirek naamgewer geword van die latere deelstaat Louisiana wat slegs 'n fraksie van die voormalige Franse kolonie Louisiana beslaan.

In 1699 het Pierre Le Moyne d'Iberville die Fort Maurepas naby die huidige Biloxi as eerste Franse basis langs die suidelike Mississippirivier op die gebied van die huidige deelstaat Mississippi gestig. Die in 1714 gestigte plek Natchitoches het die eerste permanente Europese nedersetting in Louisiana geword.[6] In 1718 is onder die naam La Nouvelle-Orléans ("Die nuwe Orleans", genoem na Filips II van Orléans) die huidige New Orleans deur Jean-Baptiste Le Moyne de Bienville gestig. Ná Mobile (Alabama) en Biloxi (Mississippi) het in 1722 New Orleans die hoofstad van Louisiana geword.

Vroeë slawerny

[wysig | wysig bron]

Die Skotsgebore Franse minister van finansies en hoofminister van die Mississippi-kompanie, John Law, het in 1717 die ingrypende besluit geneem om ter bevordering van die plantasieboerdery swart slawe na Louisiana in te voer. Hulle moes hul werk verrig op die nuwe tabakplantasies. In 1719 het die eerste slaweskepe in New Orleans aangekom.[7] Van 1719 tot 1753 is 6 000 slawe uit Afrika na die kolonie geneem en hul regstatus is, soos in al die ander Franse besittings, deur die Code Noir bepaal.

Indiaanse teenstand

[wysig | wysig bron]

Die Franse koloniste het spoedig die Indiaanse teenstand in die gesig gestaar. Veral teen die Natchez het hulle van 1710 tot aan die einde van hul heerskap in 1763 vier oorloë gevoer. Die bloedigste van dié oorloë was die Natchez-opstand in 1729, waartydens die Natchez en hul bondgenote die Franse Fort Rosalie vernietig, meer as 200 koloniste gedood – waaronder die hele volwasse manlike bevolking – en meer as 300 vroue, kinders en slawe gevange geneem het.[8] Die Natchez was tydens hierdie konflikte dikwels verdeel in 'n Frans-vriendelike en 'n -vyandelike deel. Die agtergrond van hierdie gewapende konflikte was meestal die uitsettings van Indiërs deur die Franse wat 'n gebied vir die tabakaanbou wou gebruik. Die konflikte het ook ander Indiaanse volke soos die Chickasaw betrek, maar is meestal buite die huidige Louisiana in die aangrensende Mississippi besleg. Die Indiane is dikwels deur die Franse se swart slawe ondersteun.

'n Reeks verdere oorloë tussen Franse en Indiane buite die huidige Louisiana was deurslaggewend vir die land se toekoms. Die sogenaamde Franse en Indiaanse Oorlog (1756–1763) is tussen Britte en Franse en hul onderskeidelike Indiaanse geallieerdes oorwegend op die gebied van die Groot Mere gevoer en het met die Franse nederlaag en die verkoop van hul kolonie Louisiana an die Spanjaarde in 1763 geëindig.

Spaanse tussenspel en Franse migrasie

[wysig | wysig bron]

In 1762 het die Franse al hul koloniale ambisies in Noord-Amerika laat vaar en hul kolonie Louisiana in die geheime Verdrag van Fontainebleau aan Spanje oorhandig. Dié magsverandering is met die Verdrag van Parys in 1763 bekragtig. Gedurende die daaropvolgende vier dekades van Spaanse heerskappy oor Louisiana het die Franse invloed in dié gebied egter versterk deur twee migrasiegolwe. In die 1760's het die sogenaamde Akadiërs na Louisiana migreer. Die Akadiërs was Franse wat hulle oorspronklik in die Kanadese Akadië gevestig het, wat reeds in 1713 Brits geword het. Van 1750 af het hier deur Frankryk ondersteunde opstande opgevlam, wat in 1755 met 'n grootskaalse uitsetting van die Franse uit Akadië geëindig het. Ná jare se rondswerf het die meeste vlugtelinge die nou Spaanse Louisiana bereik. Hulle vorm die kern van Louisiana se huidige Franstalige bevolkingsgroep, die Cajuns. Joseph Broussard was die aanvoerder van die eerste groep Akadiërs wat Louisiana bereik het: Nadat die Britte hulle in Akadië gevange geneem het, is hy toegelaat om met 'n groep van 200 mense hulle op die Britse Karibiese eiland Dominica te vestig, waarvandan hulle in 1765 na Louisiana migreer het.[9]

Die uitbreek van die Franse Rewolusie het van die 1780's af met rojalisties gesinde vlugtelinge nog 'n groep Franse na Louisiana gebring. Ook Duitsers het hulle in Louisiana gevestig. Van 1768 af het hulle hulle in die destyds Côte des Allemands, nou German Coast genoemde gebied gevestig, spoedig die Franse taal oorgeneem en sodoende ook die Franse kenmerk in die land vergroot.[10] Die Spaanse immigrante was oorwegend Isleños genoemde setlaars[11] vanuit den Kanariese Eilande wat hulle tussen 1778 en 1783 in Louisiana gevestig het.

Beide die vrye en die onvrye nie-Indiaanse bevolking het gedurende die Spaanse tydperk gegroei. In 1763 was daar tussen New Orleans en Pointe Coupee (noord van Baton Rouge) 3 654 vrye en 4 598 slawe. Volgens die 1800-sensus – nou met Wes-Florida – was daar 19 852 vrye en 24 264 slawe in Neder-Louisiana, wat ongeveer die huidige deelstate Louisiana, Mississippi en Arkansas beslaan. Hoewel dié getalle nie só presies is soos hulle blyk nie, bevestig hulle, dat destyds swart slawe reeds in die meerderheid was en 'n sterk invloed op die inheemse kultuur uitgeoefen het.[12]

Tweede Franse tydperk en Louisiana-aankoop

[wysig | wysig bron]
Oorhandigingseremonie van Louisiana deur Frankryk aan die Verenigde State op die Plaza d'Armas (nou: Jackson-plein) in New Orleans

Op 1 Oktober 1800 het Spanje en Frankryk onder Napoleon Bonaparte die in die geheim voorbereide Derde Verdrag van San Ildefonso voorberei. Die destyds van Frankryk afhanklike Spanje het daarmee Louisiana weer aan Frankryk oorhandig. Dit was deel van Napoleon se ambisies om in Noord-Amerika weer 'n groot Franse koloniale ryk te vestig. Hy het egter vroeg met sy poging misluk om die opstandige, ook Franse Karibiese eiland Haïti te herwin, waar voormalige slawe enkele jaar voorheen tydens die Haïtiaanse Rewolusie hul vryheid en onafhanklikheid verkry het. Dié nederlaag het Napoleon genoop om sy Amerikaanse planne te laat vaar en Louisiana aan die jong Verenigde State te verkoop.

Amerikaanse Louisiana

[wysig | wysig bron]

Louisiana-aankoop en die bepaling van Louisiana se grense

[wysig | wysig bron]
Die met die Louisiana-aankoop verkoopte kolonie Louisiana (groen) op die agtergrond van die huidige Amerikaanse deelstate
Die Adams-Onís-verdrag het onder andere die grens tussen die Amerikaanse Louisiana en die Spaanse Texas bepaal
Die Sabine-vrystaat

Die Louisiana-aankoop, die Amerikaanse aankoop van die Franse kolonie Louisiana, was die grootste aankoop van grond in die geskiedenis. Die gekoopte grond het meer as een kwart van die huidige Verenigde State beslaan, dus 'n veelvoud van die huidige deelstaat en het die destydse Amerikaanse gebied verdubbel.

Oorspronklik wou die Amerikaanse president Thomas Jefferson slegs die stad New Orleans van Frankryk aankoop. Die Amerikaners het hier sedert 1795 die "reg van vestiging" geniet en die Spanjaarde het hulle toegelaat om die hawe te gebruik. Ná die verkoop aan die Franse het hy gevrees dat hierdie regte in gevaar was. Eers in Parys het die Amerikaanse onderhandelaars, wat oor die aankoop van New Orleans sou onderhandel, die aanbod ontvang om die hele kolonie Louisiana aan te koop en hulle het ingestem.

Nou was dit egter van nadeel, dat reeds met die oorhandiging van Louisiana deur die Spanjaarde aan die Franse die gebied se grense nie presies afgebaken is nie. Daar het verskille ontstaan tussen die Verenigde State en Spanje oor die aangekoopte gebied se grense. Volgens die Spanjaarde het Louisiana rofweg bestaan uit die helfte van die huidige Louisiana en 'n smal strook in die middel van dié deelstaat asook uit die westelike helfte van die huidige twee deelstate Arkansas en Missouri. Volgens dié Spaanse voorstelling sou sowat die helfte van die huidige deelstaat Louisiana nie by die aankoop ingesluit gewees het nie en sowel die suidooste en die suidweste sou Spaanse gebied gewees het. Die Verenigde State was egter van mening dat hulle die hele huidige Louisiana aangekoop het. Wes-Florida, 'n strook grond tussen die Mississippi- en Perdido-riviere, is ook betwis. Ná 'n opstand in Wes-Florida het die Verenigde State in 1810 dié gebied geannekseer en dit tussen die huidige Amerikaanse deelstate Louisiana, Mississippi, Alabama en Florida verdeel, waardeur Louisiana se oosgrens bepaal is.

Franse en Spanjaarde het voorheen reeds oor Louisiana se wesgrens verskil,[13] deur die Louisiana-aankoop het die Verenigde State dié konflik geërf. In 1805 het Spanje ná vrugtelose onderhandelinge sy diplomatieke betrekkinge met die Verenigde State opgeskort en van Oktober 1805 tot Oktober 1806 was daar klein skermutselings in die omstrede gebied rondom die Sabinerivier. Daar was ook gerugte, dat albei kante troepe naby die betwiste gebied saamgetrek het.[14] Om dié spanninge te ontlont het hulle ooreengekom om die omstrede gebied as neutraal te beskou, waardeur in die weste van Louisiana die Sabine-vrystaat ontstaan het, waarna ook as Neutral Ground, Neutral Strip, Neutral Territory of No Man's Land of Louisiana verwys is. Volgens dié ooreenkoms tussen albei lande is nóg soldate nóg setlaars op die gebied toegelaat. Setlaars van albei kante het hulle egter nie aan dié verbod gesteur nie en die wettelose gebied het drosters, politieke vlugtelinge, avonturiers en 'n groot aantal misdadigers gelok.[15] In 1810 en 1812 het albei regerings gesamentlike militêre ekspedisies na die gebied ontplooi om die bandiete te verdryf.

Eers die Adams-Onís-verdrag in 1821 het die twispunte in die weste deur 'n mengsel aan territoriale omruiling en Amerikaanse aankope beëindig. Die steeds geldige wesgrens van Louisiana is daarmee ook in die weste tussen die Verenigde State en die destyds Spaanse Texas bepaal.

Gebied New Orleans

[wysig | wysig bron]
Die Gebied New Orleans, grondslag van die deelstaat Louisiana, asook in rooi die tot in 1819 omstrede gebiede

Die gebiede wat met die Louisiana-aankoop verkry is, het nie die status as deelstate ontvang nie; hulle het egter as "gebiede" (organized incorporated territories) deel van die Verenigde State geword. Hulle is erken as 'n grondgebied van die VSA (incorporated) en met 'n regering wat erken is as regsverteenwoordiging deur 'n wet van die Amerikaanse Kongres (organic act) is hulle as "georganiseerd" (organized) beskou. Die Orleans-gebied, voorloper van die huidige deelstaat Louisiana, is op 1 Oktober 1804 deur die Organic Act van 26 Maart 1804 gestig en op 10 April 1805 deur die territoriale parlement in twaalf counties ingedeel. William C. C. Claiborne het die gebied se goewerneur geword en van 1804 tot 1812 in dié pos gedien, dit wil sê die hele bestaanstydperk van die New Orleans-gebied.

In 1811 het in die New Orleans-gebied naby die hoofstad New Orleans die grootste slawe-opstand in die Amerikaanse geskiedenis uitgebreek, die German Coast-opstand. Sowat 500 slawe het aan die German Coast, 40 myl van New Orleans, in opstand gekom en tot sowat 32 km na die stad opgeruk. Die gebied se hele militêre krag was nodig om dié opstand te onderdruk.[16]

Opname in die Unie en Ontwikkeling tot die Burgeroorlog

[wysig | wysig bron]
Historiese skildery van die "Slag van New Orleans"
Kanaalstraat, New Orleans, in 1857

Op 30 April 1812 het die Orleans-gebied onder die naam Louisiana as die 18de deelstaat by die Verenigde State aangesluit. Om verwarring te voorkom is in Junie dieselfde jaar die in die noorde aangrensende Louisiana-gebied in Missouri-gebied hernoem.

Tydens die Anglo-Amerikaanse Oorlog van 1812 was Louisiana 'n oorlogsteater. Selfs ná dié oorlog se amptelike einde het in Januarie 1815 die Slag om New Orleans gewoed, waartydens die Amerikaners die Britse invalsmagte verslaan het. Eers kort daarna het albei kante van die vredesooreenkoms verneem.

Louisiana se hoofstad New Orleans het 'n groot ekonomiese opswaai beleef en die belangrikste Amerikaanse hawe vir die uitvoer van beide katoen en suikers geword. In 1840 het New Orleans oor die grootste Amerikaanse slawemark beskik, was – die wit bevolking in ag genome – een van die rykste stede van die land en die derde grootste Amerikaanse stad net ná New York en Baltimore.[17]

Ingevolge die gedwonge verskuiwings van Indiane het Louisiana in die 1830's 'n ekonomiese oplewing beleef. Dit is verder bevorder deur die skuldbefondsde uitbreiding van vervoerroetes. Gevolglik het Louisiana se begrotingstekort in 1840 aansienlik gestyg. As gevolg van die ekonomiese krisis van 1837 het Louisiana in 1840 bankrotskap verklaar en voortgegaan om slegs 'n deel van sy staatseffekte te bedien. In 1849 het Baton Rouge vir enkele jaar Louisiana se hoofstad geword.

Met 18 647 mense het Louisiana net voor die Amerikaanse Burgeroorlog ook die grootste aantal vrye swart mense van al die Amerikaanse deelstate gehuisves. Die meeste van hulle het in die suidelike deel gebly, waaronder veral in New Orleans, baie van hulle het aan die middelklas behoort en was goed opgevoede mense.[18] Volgens die 1860-sensus was 331 726 mense slawe, sowat 47% van die hele bevolking van 708 002.[19]

Die oprigting en uitbreiding van die dykstelsel was deurslaggewend vir Louisiana se ekonomiese vooruitgang, veral vir die uitbreiding van die uitvoerprodukte suiker en katoen se landbougrond. Teen 1860 was in Louisiana 1 190 km dyke langs die Mississippirivier en nog 720 km langs sy sytakke meestal per hand uitgebrei.[20]

Louisiana tydens die Burgeroorlog

[wysig | wysig bron]
Met "1" gemerkte pyle: Die noorde se verdelingstrategie langs die Mississippirivier
Veldslae tydens die Burgeroorlog op Louisiana se gebied

Met die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog in 1861 was die magtiges se belange in die deelstaat eenparig. Louisiana se ekonomie was gegrond op slawewerk. Ná Abraham Lincoln se verkiesing tot Amerikaanse president het dit op 26 Januarie 1861 sy uittrede uit die Unie verklaar en dadelik by die Gekonfedereerde State van Amerika aangesluit. Daarmee was Louisiana een van die Konfederasie se stigtingslede. Die Unie se strategie om die suidelike deelstate deur die Mississippivallei se besetting in twee te deel, het tot 'n vroeë verowering van die deelstaat Louisiana gelei. Reeds in die tweede oorlogsjaar, op 25 April 1862, is New Orleans deur troepe uit die noorde verower, die Gekonfedereerde Louisiana se hoofstad is vervolgens na Shreveport verskuif. In 1865 het die Gekonfedereerde State oorgegee.

Heropbou en ontkenning van swart mense se burgerregte

[wysig | wysig bron]

Soos die ander deelstate van die verslane Konfederasie is Louisiana onder militêre administrasie geplaas en het saam met Texas die militêre distrik 5 onder generaalmajoor Philip H. Sheridan se gesag gevorm. Daarop het die fase "Heropbou", die ombou van die suide volgens die noorde se idees gevolg, waaronder veral die afdwinging van die slawebevryding en die burgerregte vir swart mense, die verwydering van Gekonfedereerde ondersteuners uit politieke poste en die ontwikkeling van 'n nuwe grondwet vir die deelstaat. Weerstand teen die transformasie is militêr onderdruk. Drie jaar later, op 9 Juli 1868, het Louisiana by die Unie heraangesluit.

In 1874 is in Louisiana die White League gestig, 'n rassistiese organisasie soortgelyk aan die Ku Klux Klan. Later dieselfde jaar het in New Orleans die Slag van Liberty Place gewoed, waartydens 5 M000 White League-lede met 3 500 polisiebeamptes en burgermaglede van Louisiana slaags geraak het om die goewerneur se afsetting af te dwing. Eers deur die ontplooiing van soldate uit die noorde kon die Unie orde in die stad herstel.[21]

Die in die hele suide regerende Demokratiese Party het van die 1880's af daarin geslaag om die swart bevolking as 't ware van sy stemreg te ontneem, waarmee sowat die helfte van die stemgeregtigdes van verkiesings uitgesluit is. Met die in 1898 goedgekeurde nuwe grondwet is vereistes vir die stemreg ingevoer soos 'n fooi om as 'n kieser te kan registreer, 'n bewys van verblyf en toetse vir skryfvaardighede, waarmee groot dele van die swart bevolking direk uitgesluit is. Terwyl in 1896 130 334 swart mense en ongeveer dieselfde hoeveelheid wit mense as kiesers geregistreer was[22] was daar in 1900 slegs sowat 5 000 geregistreerde swart kiesers in die hele deelstaat en in 1910 slegs 730.[23] Deur die sogenaamde "oupa-klousule" het wit mense diskriminerende bepalings soos die toetse vir skryfvaardighede vrygespring. Die wit Demokrate het hier tot laat in die 20ste eeu onbetwiste alleenheerskappy uitgeoefen.

In 1923 het Louisiana algemene "wit" voorverkiesings ingevoer, waarmee Afro-Amerikaners van dié onder die gegewe omstandighede faktiese eenpartystelsel se enigste beslissende verkiesingsproses op deelstaatvlak uitgesluit is.[24] Hierdie voortgesette diskriminasie en die ekonomiese situasie het tussen 1910 en 1930 tot die eerste groot migrasie onder Afro-Amerikaners uit Louisiana en ander suidelike deelstate na die noorde of Kalifornië gelei.

In die tydperk van die Groot Depressie in die 1930's is Louisiana deur die populistiese goewerneur Huey Pierce Long regeer wat 'n outokratiese regeringstyl gehad het en in 1935 vermoor is. Sy idees vir die hantering van die ekonomiese krisis het verder gegaan as dié van president Franklin D. Roosevelt se New Deal. Hy het die "hoofbelasting" wat aan die stemreg gekoppel was, afgeskaf, een van die elemente wat swart mense verhinder het om hul stemreg uit te oefen, maar die "wit" voorverkiesings het bly voortbestaan tot in 1944, toe hulle uiteindelik deur die Amerikaanse Hooggeregshof afgeskaf is. Nog in 1948 het slegs 1% van Louisiana se swart bevolking daarin geslaag om hul stemreg uit te oefen.[25]

Stryd vir burgerregte

[wysig | wysig bron]

Daar is nuwe maniere gevind om die swart bevolking van sy stemreg te ontneem. Hoewel in New Orleans en die suidelike gemeentes van Louisiana, wat 'n lang tradisie van vrye, swart burgers gehad het, burgerregtebewegings hard gewerk het om swart kiesers te registreer, het die persentasie tussen 1948 en 1952 tot slegs 5% gestyg. Teen 1964 het die aantal tot 32% toegeneem.[26] Die persentasie geregistreerde swart kiesers het egter aansienlik gewissel, van 93,8% in Evangeline Parish tot slegs 1,7% in Tensas Parish. Die voortgesette diskriminasie het gelei tot 'n tweede groot migrasie van swart mense uit Louisiana na die noorde en weste, met die gevolg dat die proporsie Afro-Amerikaners hier teen 1960 tot 32% gedaal het.[27]

Die swart Burgerregtebeweging het met die Burgerregtewet van 1964 en die Kieserswet van 1965 deurslaggewende wette teen die diskriminasie afgedwing en teen 1968 was amper 59% van Louisiana se stemgeregtigde swart bevolking as kiesers geregistreer. Vandag beloop hul aandeel sowat 70% en is daarmee hoer as in enige ander deelstaat van die suide.[28] In 1967 was Louisiana een van die laaste Amerikaanse deelstate wat deur die Hooggeregshof van die Verenigde State gedwing is om die verbod op gemengde huwelike te wysig.

Orkaan Katrina

[wysig | wysig bron]
Die in 2005 oorstroomde New Orleans

Die orkaan Katrina was aan die begin van die nuwe millennium 'n keerpunt in Louisiana se geskiedenis, toe dit in 2005 die dyke van die Pontchartrainmeer gebreek het en 'n groot deel van New Orleans oorstroom is. Die natuurramp het met 1 000 slagoffers in 'n skandaal ontwikkel. Van die meeste slagoffers was swart mense. Hulpdienste is deels gestaak nadat helikopters na bewering deur oorlewendes geskiet is. 'n Onbekende aantal dooies was slagoffers van wit vigilante-groepe en die rassistiese agtergrond van mediaberigte en die deelstaat se versuim om bystand te verleen was oënskynlik. Teen 2008 was 120 000 voormalige inwoners van New Orleans, meestal swart mense, steeds versprei oor die Verenigde State, soms in noodskuilings.

Deepwater Horizon-olieramp

[wysig | wysig bron]

In 2010 is die Golf van Meksiko deur die Deepwater Horizon-olieramp geraak, die ergste olieramp in die Amerikaanse geskiedenis. Die ontploffing van die Deepwater Horizon-olieboor het 'n groot besoedeling langs die kus van Louisiana en ander Golfstate veroorsaak.[29]

Orkaan Isaac

[wysig | wysig bron]

In Augustus 2012 het Orkaan Isaac die golfkus getref, insluitende Louisiana. Dit het oorstromings, kragonderbrekings en skade aan die infrastruktuur veroorsaak.[30]

Regering en regstelsel

[wysig | wysig bron]

Regering op deelstaatvlak

[wysig | wysig bron]
Die goewerneur van Louisiana se ampswoning in Baton Rouge
Die State Capitol van Louisiana in Baton Rouge

Die hoofstad van Louisiana is Baton Rouge, sy burgemeester is Sid Edwards (Republikeinse Party). Die twee senatore is Bill Cassidy en John Kennedy (Republikeinse Party). Louisiana beskik oor ses lede in die Amerikaanse Kongres, waarvan vier Republikeine en twee Demokrate is.

Bobby Jindal (Republikeinse Party) is op 20 Oktober 2007 as nuwe goewerneur van Louisiana verkies. Hy was die eerste Amerikaner van Indiese afkoms wat die amp van goewerneur in 'n Amerikaanse deelstaat beklee het. Sedert Januarie 2024 dien Jeff Landry as goewerneur van Louisiana.

Plaaslike regeringstelsel

[wysig | wysig bron]

Louisiana is naas Alaska die enigste Amerikaanse deelstaat wat vir administratiewe doeleindes nie in counties verdeel word nie. Die deelstaat se plaaslike regeringstelsel is uit die Franse en Spaanse koloniale tydperk oorgeërf toe die gebied sowel vir godsdienstige (as Rooms-Katolieke jurisdiksies) asook vir administratiewe doeleindes in parogieë (Frans: paroisses, Spaans: parroquias) verdeel is.

41 van die huidige 64 parishes, soos hulle in Engels genoem word, word deur 'n raad geadministreer wat police jury genoem word. Die ander 23 parogieë het 'n verskeidenheid plaaslike regeringstelsels en word byvoorbeeld deur 'n president en raad; deur 'n raadsbestuurder (council manager); deur 'n parogiale kommissie (parish commission) of as 'n gekonsolideerde parogie en stadsgebied (consolidated parish and city) geadministreer.

Regstelsel

[wysig | wysig bron]

Louisiana is die enigste deelstaat van die VSA wat 'n regstelsel op die grondslag van die Romeinse, Spaanse en Franse reg het – in teenstelling met die Engelse common law van ander deelstate.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Oorsig

[wysig | wysig bron]
Die eerste oliebron in die Verenigde State is in September 1901 in Evangeline ontgin

Louisiana se ekonomie steun op die ontginning van ruolie- en aardgasreserwes asook minerale soos ystererts, swawel, kalk, sout en ligniet (bruinkool); nywerhede soos olieraffinaderye, chemie en petrochemie, skeepsbou en ligte nywerhede soos vervoertoerusting; bosbou, landbou en voedselverwerking; vissery; pulp-, laaghout- en papiervervaardiging; skeepvaart en internasionale handel; en toerisme.[31]

Die bruto geografiese produk van Louisiana het in 2010 $213,6 miljard beloop. Louisiana se ekonomie was die 24ste grootste van alle Amerikaanse deelstate, met 'n per capita-inkomste van $30 952 (geranglys 41ste). In Mei 2015 was 2,1 miljoen deelstaatbewoners ekonomies aktief. Die werkloosheidsyfer het 6,6 persent beloop.[32]

Die deelstaat is 'n belangrike bestemming vir buitelandse beleggings. Tans het sowat 200 buitelandse ondernemings altesaam $16 miljard in Louisiana belê – die grootste bedrag van buitelandse beleggings in enige deelstaat in die suidooste van die VSA en die negende grootste van alle deelstate.

Historiese ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
New Orleans se besige hawe in 1884

Voor die Amerikaanse Burgeroorlog was Louisiana een van die welvarendste Suidstate. In die 19de eeu het sy ekonomie hoofsaaklik op twee winsgewende bedrywe – katoen en suiker – en die deelstaat se rol as anker van die Verenigde State se belangrikste noord-suidelike handelsroete gesteun. Die Burgeroorlog het Louisiana se ekonomiese lewe ontwrig, terwyl oorstromings in dié tyd groot skade op katoenplantasies aangerig het. 'n Daling in internasionale katoenpryse en die federale regering se besluit om geen premies meer vir suiker te betaal nie het die deelstaat tot die einde van die 19de eeu ekonomies laat stagneer, alhoewel New Orleans steeds 'n leidende rol as uitvoerhawe vir katoen en graan gespeel het.

Die ekonomiese herstel in die volgende dekades was aan die verbouing van twee nuwe belangrike gewasse, rys en sojabone, herbebossing en 'n gepaardgaande opswaai in die houtbedryf, groeiende vraag na dennehout vir papiervervaardiging en die ongekende groei in die petrochemiese bedryf te danke. Aan die einde van die 20ste eeu is jaarliks mineraal- en fossielbrandstowwe ter waarde van $27 miljard ontgin.

Die afhanklikheid van minerale, ruolie en aardgas het egter ook beteken dat Louisiana se ekonomie op- en afwaartse fases in die konjunktuursiklus ondergaan het. Ná sterk groei in die 1970's is die oliebedryf – en sodoende die hele ekonomie in die deelstaat – in die 1980's in 'n resessie gedompel toe die olieprys van $37 in 1981 tot $15 in 1986 gedaal het. Die oliebedryf het vervolgens byna die helfte van sy 100 000 werkgeleenthede verloor.

Dalende oliepryse het gepaard gegaan met 'n styging in gaspryse en 'n nekslag aan die chemiese bedryf toegedien wat groot hoeveelhede aardgas verbruik. Wisselkoersskommelings het ook 'n negatiewe impak gehad, veral toe die wisselkoers van die Amerikaanse dollar in 1985 tot rekordvlakke gestyg het.

Plantasies

[wysig | wysig bron]
Oak Alley Plantation: herehuis met eikelaning

Die Louisiaanse plantasiestelsel het sy historiese en geografiese oorsprong in 18de eeuse boerderye wat langs die deelstaat se bayous en riviere gevestig is. Planters het die vrugbare grond aanvanklik vir die verbouing van indigo en tabak gebruik, maar dié gewasse is vinnig vervang deur katoen in Noord-Louisiana en suikerriet in die warmer suidelike streke van die deelstaat.

Die groot winste, wat met suiker en katoen behaal kon word, is deur plantasie-eienaars dikwels vir die bou van statige herehuise aangewend waarvan die ontwerpe en boustyle so uiteenlopend was soos die herkoms van die plantergesinne. Die vroegste boustyl was die kreoolse raised cottage waarvan die basiese ontwerp aan Wes-Indiese voorbeelde ontleen is. Sy groot skermagtige geweldakke het sy oorsprong in Kanada, terwyl die breë galerye en sierlike houtkolomme (colonettes) in Louisiana ontwikkel is.

Plantasieslawe het die vroeë meubilerings van herehuise van eike- of sipreshout vervaardig. Later, toe plantasiebesitters meer welvarend geword het, is Europese meubels ingevoer of deur Europese ambagsmanne vervaardig wat hulle in die deelstaat gevestig het. Meubelstyle, boukuns en die voorkeur vir baie deftige ontwerpe getuig steeds van die plantasiegesinne se strewe om die lewe in 'n nuwe omgewing so aangenaam moontlik te maak. Baie herehuise is omring deur uitgestrekte formele tuine, en sommige het toegangspaaie waar eikebome aan weerskante geplant is. Bome langs dié lanings het intussen aansienlik groot geword.[33]

Olie, gas en minerale

[wysig | wysig bron]
Olieraffinadery naby New Orleans

Sowat twee persent van die bekende Amerikaanse ruoliereserwes word in Louisiana aangetref, met bykomende groot reserwes in die Golf van Meksiko. Die deelstaat is tans die land se vierde grootste olieprodusent. Die olie- en verwante bedrywe het meer as 300 000 werknemers in diens en verskaf 'n sesde van alle werkgeleenthede in Louisiana.

Aardgasreserwes is selfs nog groter en word op sowat vyf persent van bekende reserwes beraam. Groot hoeveelhede sout lê in ondergrondse formasies opgesluit waarvan sommige 'n deursnee van een myl het en tot 50 000 voet diep strek. Die rotssout, wat in Louisiana ontgin word, is byna 100 persent suiwer. Louisiana was daarnaas die eerste deelstaat waar swawel gemyn is en is steeds een van die belangrikste produsente van dié mineraal in die Verenigde State.

Louisiana se olieraffinaderye vervaardig jaarliks sowat 15 miljard gellings petrol – genoeg om 800 miljoen motortenks te vul. Dit maak van die deelstaat die derde grootste olieraffineerder in die VSA. Louisiana se sestien raffinaderye sluit vier van die grootstes in die Westelike Halfrond in. Groot oliemaatskappye soos Exxon, Shell, Citgo, Mobil, Marathon, Conoco, BP en STAR bedryf aanlegte in die deelstaat wat naas petrol ook stralerbrandstowwe, smeerolies en sowat 600 ander olieprodukte vervaardig.

Louisiana se petrochemiese bedryf is die tweede grootste van alle Amerikaanse deelstate. Meer as 100 groot chemiese aanlegte vervaardig 'n verskeidenheid van basiese chemikalieë, kunsmis en plastiek. Sintetiese rubber is vir die eerste keer in Louisiana ontwikkel en vervaardig, net soos 'n reeks ander olieverwante produkte.

Skeepsbou

[wysig | wysig bron]

Louisiana se skeepswerwe vervaardig 'n wye verskeidenheid skepe en olieboorplatforms, waaronder groot kriogeniese tenkskepe vir die vervoer van vloeibare aardgas en van die grootste platforms vir die ontginning van olie en gas ter see, handelskepe, kotterskepe vir die kuswag, vragskuite, sleepbote, voorraadbote, visserbote, plesierbote en rivierpatrolliebote.

Die skeepswerf Avondale Shipyards aan die Mississippirivier naby New Orleans is die grootste industriële werkgewer in Louisiana. Kenmerkend vir hierdie werf is dat skepe soms onderstebo vervaardig en sywaarts geloods word.

Nywerhede

[wysig | wysig bron]

Naas hulpbrongebaseerde nywerhede het Louisiana 'n industriële basis van ligte nywerhede. So word in die deelstaat onder meer professionele telefoonstelsels, elektriese uitrusting, farmaseutiese produkte, glas, motorbatterye, speelgoedtoerusting, mobiele huise, klerasie, wapens, spesiale voertuie vir moerasgebiede en honderde ander produkte vervaardig asook ligte vragmotors gemonteer.

Skeepvaart en handel

[wysig | wysig bron]

Die Verenigde State het Louisiana oorspronklik van Frankryk gekoop om die in- en uitvoer van goedere op die Mississippirivier en in New Orleans se seehawe te beveilig. Die deelstaat se vyf hawens speel steeds 'n belangrike rol vir die VSA se buitelandse handel en hanteer jaarliks 5 000 skepe met 400 miljoen ton se vrag, waaronder veertig persent van die totale Amerikaanse graanuitvoere.

Meer as 'n kwart van die VSA se seevrag word deur Louisiana se hawens gehanteer, en die plaaslike Superport is die enigste hawefasiliteit in die VSA waar skepe met 'n diepgang van 100 voet kan aandoen.

Toerisme

[wysig | wysig bron]
Cajun-woonhuise langs 'n bayou

Die toerismesektor voorsien meer as 80 000 werkgeleenthede, terwyl toeriste jaarliks $5,2 miljard in die deelstaat bestee. Die belangrikste trekpleisters is New Orleans se Franse kwartier, Cajun Country, plantasie-herehuise uit die tyd voor die Amerikaanse Burgeroorlog, jazzmusiekfeeste, Louisiana se kookkuns, diepsee- en varswatervissery, jag, die Mardi Gras-karnaval en meer as honderd ander feeste, toere deur moerasgebiede, staptoere en kampeerplekke, kanosport en plesierbootvaarte op die Mississippirivier.

Rolprentbedryf

[wysig | wysig bron]

Die geskiedenis van Louisiana se rolprentbedryf strek terug na 1908 toe die film Faust hier vervaardig is. Danksy subsidies van die deelstaatregering floreer die bedryf wat aan Louisiana die bynaam "Hollywood van die Suide" besorg het.

Bos- en landbou

[wysig | wysig bron]
Tabascorissiespap word ryp in eikevate op Avery-eiland
Gekookte kreef met soetpatats en mielies

Bosse beslaan meer as 13,9 miljoen akkers. Die belangrikste boomspesies is dennebome, eike, rubberbome en sipresse. Die bosboubedryf vorm die basis vir houtnywerhede soos papiermeule, meubel- en vloerplankfabrieke.

Louisiana se landboubedryf trek voordeel uit die subtropiese klimaat en is op een na die grootste suikerriet- en soetpatatprodusent in die VSA, die derde belangrikste rys- en die vyfde grootste katoenprodusent. Dit is ook 'n belangrike beesvleisverskaffer. Ander landbouprodukte uit Louisiana sluit sojabone, mielies, pluimvee en eiers, en suiwelprodukte in.

Die deelstaat is die enigste produsent van tabascorissies en Tabascosous, 'n gewilde kruiesous wat daarvan gemaak word, asook van perique-tabak wat as geurmiddel vir ander tabaksoorte gebruik word. Tabascosous is vir die eerste keer in 1868 vervaardig deur Edmund McIlhenny, 'n vroeëre bankier uit Maryland wat hom omstreeks 1840 in Louisiana gevestig het. Oorspronklik is alle rissies, wat tot tabascosous verwerk is, op Avery-eiland verbou. Later is saad van die eiland ook vir rissieproduksie na die buiteland uitgevoer, veral na Sentraal- en Suid-Amerika.

Tabasco-pepers word tradisioneel handgepluk en kort na die oes gemaal, met sout vermeng en in eikevate gevul waarin die pap tot drie jaar lank verouder. Tabascosous is die gewildste kruiesous in die VSA, en die McIlhenny-fabriek op Avery-eiland, die eienaar van die Tabascosoushandelsmerk, vervaardig daagliks meer as 700 000 twee-ons-bottels (57 ml).

Daarnaas is daar meer as 'n dosyn rysmeule, sewe suikerraffinaderye en 'n twintigtal ander suikerverwante nywerhede in die deelstaat gevestig, soos inmaakfabrieke, katoenverwerkers en vleisverpakkers.

Vissery

[wysig | wysig bron]

Louisiana se visserybedryf lewer sowat 'n kwart van alle seekos op wat in Amerikaanse waters gevang word. Dit is die grootste produsent van garnale en oesters in die VSA. Die staat se varswatervisbedryf is een van die mees gediversifeerdes in die land en produseer naas vis jaarliks ook miljoene ton kreef – meer as 90 persent van die totale wêreldproduksie.

Demografie

[wysig | wysig bron]

Historiese immigrasie

[wysig | wysig bron]
Duitsers

Die Duitse kus (Frans: Côte des Allemands) was 'n streek net noord van New Orleans aan die oostelike kant van die Mississippi waar Duitssprekende setlaars uit die Rynland, Switserland, Elsas-Lotaringe en die latere België hulle in die vroeë 18de eeu in vier nedersettings – Karlstein, Hoffen, Mariental en Augsburg – gevestig het. Die meeste van hulle is in 1721 deur John Law se Company of the Indies (die vroeëre Mississippi-kompanjie) na Louisiana gebring en het, toe die kompanjie tien jaar later bankrot gespeel het, onafhanklike grondeienaars geword.

Ondanks periodieke oorstromings, orkane en alle ander moeilikhede wat die grenslewe meegebring het, het hulle suksesvolle boerderye begin en nie net hulself nie, maar ook die bewoners van New Orleans van voedsel voorsien. Die meeste Duitse setlaars is deur die plaaslike Franssprekende bevolking geassimileer en het met inheemses getrou. Saam met ander etniese groepe het hulle die Cajun-leefstyl en -kultuur geskep. So het Duitse immigrante die diatoniese trekklavier na Louisiana gebring wat omstreeks 1900 die hoofinstrument van Cajun-musiek was.

Akadiërs

Klein groepe Akadiërs – rofweg sowat 1 000 setlaars – het hulle volgens historiese rekords voor 1784 in Louisiana kom vestig; vanuit ander landsdele (onder meer uit Baltimore in 1769) en vanuit die Karibiese gebied In 1785 het sowat 2 000 Akadiërs hulle in Louisiana gevestig – 'n gebeurtenis waarna as die grand migration verwys word. Hierdie groep immigrante het ná 'n lang odussee, waartydens hulle vanuit Nieu-Engeland na Engeland en later na Saint-Malo in Bretagne geëmigreer het waar hulle deur die Franse regering ondersteun is. In 1784 is 'n ooreenkoms met die Spaanse owerheid aangegaan om hulle in Louisiana te hervestig. Die meeste van hierdie setlaars het hulle langs die Bayou Teche of in die Attakapas-streek gevestig.

So word die getal Akadiese immigrante in die laat 18de eeu op sowat 3 500 beraam. Tussen 200 000 en 300 000 deelstaatbewoners is nasate van hierdie setlaars.[34]

Huidige bevolking

[wysig | wysig bron]
Die moerasgebied van Honey Island Swamp
'n Tweetalige welkombord met die fleur-de-lis getuig van Louisiana se Franse erfenis

Volgens die sensus van 2010 is Louisiana se bevolking bepaal as 4 533 372, van wie sowat 215 000 Frans as huistaal gebesig het. 62,6 persent van die bevolking was wit, 32,0 persent swart mense, 4,2 persent was van Spaanse afkoms, 1,5 van Asiatiese en 1,6 persent van gemengde afkoms. 0,6 persent het tot die Eerste Nasies (Indiane) behoort. In Januarie 2014 is die deelstaatbevolking op 4 649 676 beraam.[35]

32,5 persent van die bevolking het Afro-Amerikaanse voorvaders, 16,2 persent Frans-Kanadese, 10,1 persent Amerikaanse, 7,1 persent Duitse en 7 persent Ierse.

Swart Amerikaners, wat vir 'n lang tyd die meerderheid van die bevolking vorm, is die belangrikste demografiese groep in die suidoostelike, sentrale en noordelike gedeelte van die deelstaat, veral in die parogieë langs die vallei van die Mississippirivier. Daar is twee belangrike etniese groepe – Kreole van gemengde Franse, Spaanse, Karibiese, Indiese en/of Afrika-afkoms en Franssprekende Cajuns met Franko-Kanadese voorvaders wat oorspronklik van Akadië (Nieu-Skotland of Nova Scotia) afkomstig was en hulle ná hulle verdrywing deur die Britse koloniale bewindhebbers in die moerasgebiede van Louisiana gevestig het. Die kreoolse en Cajun-bevolking is veral in die suide van Louisiana saamgetrek, onder meer in gebiede rondom die stad Lafayette, terwyl wit mense van Protestantse Anglo-Amerikaanse afkoms hulle veral in die bergagtige noorde gevestig het.

Volgens die sensus van 2010 het 91,2 persent van die inwoners, wat vyf jaar of ouer is, Engels as huistaal gebesig, 5,4 persent Spaans en 4,5 persent Frans (insluitende Louisiaanse kreools).

Louisiana het geen amptelike taal nie. Voor die Amerikaanse Burgeroorlog is amptelike dokumente gewoonlik sowel in Engels asook in Frans uitgereik, en die tweetalige status van Louisiana is in die grondwet van 1845 asook 'n wet van 1847 veranker.

Naas die frankofone inwoners vorm die Isleños, nasate van immigrante wat tydens die 18de eeu vanuit die Kanariese Eilande na Louisiana gekom het, 'n tweede belangrike minderheid.

Kookkuns

[wysig | wysig bron]
Tipiese geregte uit die kreoolse kookkuns van Louisiana

Die metropolitaanse gebied van New Orleans was die bakermat van Louisiana se kreoolse kookkuns, wat Franse, Spaanse, Frans-Karibiese, Amerikaanse en Afrika-invloede meesterlik versmelt het. Dit verskil duidelik van die Cajun-kookkuns, wat sy wortels in die landelike, provinsiale kookkuns van Frankryk het, wat deur die Akadiërs by plaaslike bestanddele aangepas is. Daarenteen het Louisiana se kreoolse kookkuns op die basis van klassieke Europese kookstyle ontwikkel het, wat by plaaslike landbouprodukte aangepas is.

Met die opkoms van die Moderne Amerikaanse Kookkuns in die 1980's het ook 'n Nuwe kreoolse Kookstyl begin ontwikkel. Hierdie kulinêre beweging konsentreer weer op vars bestanddele en ligte etes, en word beïnvloed deur kulinêre tradisies uit die Suidelike, Suidwestelike, Cajun- en in 'n beperkte mate ook Suidoos-Asiatiese kookkuns.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Lea Flowers Baker "Louisiana Purchase". Encyclopedia of Arkansas. URL besoek op 22 November 2010. 
  2. (en) Saunders, Joe W.; Mandel, Rolfe D.; Sampson, C. Garth; Allen, Charles M.; Allen, E. Thurman; Bush, Daniel A.; Feathers, James K.; Gremillion, Kristen J. et al. (2005), „Watson Brake, a Middle Archaic Mound Complex in Northeast Louisiana“, American Antiquity 70 (4): 631–668
  3. (en) Jon L. Gibson: „Poverty Point: The First Complex Mississippi Culture“ op Wayback Machine, 2001, Delta Blues, besoek op 26 Oktober 2009
  4. (en) texasbeyondhistory.net
  5. (en) Sturdevent, William C. (1967): Early Indian Tribes, Cultures, and Linguistic Stocks, Smithsonian Institution Map (Eastern United States).
  6. (en) Geargiveer op Wayback Machine
  7. (en) Hall, Gwendolyn Midlo, Africans in Colonial Louisiana, bl. 61
  8. (en) Charles F. Lawson: Archaeological Examination of Electromagnetic Features: An Example from the French Dwelling Site, a Late Eighteenth Century Plantation Site in Natchez, Adams County, Mississippi, bl. 7.
  9. (en) C. A. Pincombe and E. W. Larracy, Resurgo: The History of Moncton, Volume 1, 1990, Moncton, bl. 30
  10. (de) Andreas Hübner: Die Côte des Allemands. Eine Migrationsgeschichte im Louisiana des 18. Jahrhunderts. transcript, Bielefeld 2017, ISBN 978-3-8376-4006-9.
  11. (en) Geargiveer op Wayback Machine
  12. (en) Hall,Africans in Colonial Louisiana, bl. 279.
  13. (en) Geargiveer op Wayback Machine, at Louisiana Places
  14. (en) „The Cabildo“, at the Louisiana State Museum web site
  15. (en) Geargiveer op Wayback Machine
  16. (en) Geargiveer op Wayback Machine (PDF; 505 kB), Louisiana State University, Augustus 2008, bl. 58, besoek op 8 Desember 2008
  17. (en) Walter Johnson, Soul by Soul: Life Inside the Antebellum Slave Market, Cambridge: Harvard University Press, 1999, bl. 2
  18. (en) Geargiveer op Wayback Machine, besoek op 31 Oktober 2007
  19. (en) Geargiveer op Wayback Machine, besoek op 31 Oktober 2007
  20. (en) The New York Times, Louisiana: The Levee System of the State, 10/08/1874, besoek op 13 November 2007
  21. (en) Nicholas Lemann, Redemption: The Last Battle of the Civil War, New York, Farrar, Strauss & Giroux, 2006, bl. 76–77
  22. (en) Richard H. Pildes, „Democracy, Anti-Democracy and the Canon“, Constitutional Commentary, Vol. 17, 2000, bl. 12–13, besoek op 10 Maart 2008
  23. (en) Richard H. Pildes, „Democracy, Anti-Democracy and the Canon“, Constitutional Commentary, Vol. 17, bl. 12, besoek op 10 Maart 2008
  24. (en) Geargiveer op Wayback Machine, besoek op 19 Maart 2008
  25. (en) Geargiveer op Wayback Machine, besoek op 19 Maart 2008
  26. (en) Geargiveer op Wayback Machine, besoek op 19 Maart 2008
  27. (en) Geargiveer op Wayback Machine, besoek op 15 Maart 2008
  28. (en) Geargiveer op Wayback Machine, besoek op 19 Maart 2008
  29. (de) @NatGeoDeutschland (20 April 2020). "10 Jahre nach Deepwater Horizon: Die Umweltfolgen des Öls". Besoek op 24 Februarie 2024.
  30. (de) "US-Südstaaten: Hurrikan "Isaac" erreicht Louisiana". Der Spiegel. 29 Augustus 2012. ISSN 2195-1349. Besoek op 24 Februarie 2024.
  31. (en) "Regering van Louisiana: Ekonomie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2013. Besoek op 12 Oktober 2013.
  32. (en) Bureau of Labor Statistics: Louisiana
  33. (en) Deelstaatregering van Louisiana: Inligting oor Louisiana – Plantasies. Besoek op 23 Junie 2015 Geargiveer 24 Maart 2013 op Wayback Machine
  34. (en) Milburn Calhoun (editor); Bernie McGovern (assistant editor): Louisiana Almanac. 2008–2009 Edition. Gretna, LA: Pelican Publishing Company 2008, bl. 126
  35. (en) Deelstaatregering van Louisiana: Demographics and Census Geography, Louisiana State Census Data Center. Besoek op 23 Junie 2015 Geargiveer 5 September 2015 op Wayback Machine

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Geskiedenis

  • (en) Sophie White (2013). Wild Frenchmen and Frenchified Indians. Material Culture and Race in Colonial Louisiana. University of Pennsylvania Press.
  • (en) Bennett H. Wall, John C. Rodrigue (2014). Louisiana: A History (6de uitg.). Wiley-Blackwell. ISBN 978-1-118-61929-2.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Amptelike webtuistes

Toerisme

Ensiklopedieë

Museums

Media

Digitalisering van historiese dokumente uit die koloniale tydperk

Vlag van die Verenigde State Verenigde State van Amerika Seël van die Verenigde State
DeelstateAlabamaAlaskaArizonaArkansasColoradoConnecticutDelawareFloridaGeorgiaHawaiiIdahoIllinoisIndianaIowaKaliforniëKansasKentuckyLouisianaMaineMarylandMassachusettsMichiganMinnesotaMississippiMissouriMontanaNebraskaNevadaNew HampshireNew JerseyNieu-MeksikoNew YorkNoord-CarolinaNoord-DakotaOhioOklahomaOregonPennsilvaniëRhode IslandSuid-CarolinaSuid-DakotaTennesseeTexasUtahVermontVirginiëWashingtonWes-VirginiëWisconsinWyoming
Federale distrikDistrik Columbia (Washington, D.C.)
EilandgebiedeAmerikaanse Maagde-eilandeAmerikaans-SamoaGuamNoordelike Mariana-eilandePuerto Rico
Klein afgeleë eilandeBakerHowlandJarvisJohnstonKingmanMidwayNavassaPalmyraWake
Geassosieerde landeGefedereerde State van MikronesiëMarshalleilandePalau